Los die hittestres agter

Oorwin die warm somermaande in varkproduksie (hittestres)

Ons almal weet hoe dit voel. Daardie warm somersdag kan baie vinnig baie ongemaklik raak wanneer die hittegolf op sy piek is. Maak nie saak wat jy doen nie, jy kan nie gemaklik word nie. Dan is daar een ding wat nie twee is nie. Om dan produktief te wees sukkel om bo aan die prioriteitslys te kom. Varke ervaar hierdie dilemma 100 keer erger.

Die fisiologie van hittestres in varke

Varke is nie baie effektief as dit kom by hittevrystelling nie. Hulle het ‘n vinnige metabolisme wat hitte genereer, maar hulle het ‘n dik laag vet onder die vel en swak ontwikkelde sweetkliere.

Hittestres affekteer varke van 50kg liggaamsmassa en hoër. Dus lê die grootste probleem by sôe en groeiers. Hul ideale liggaamstemperatuur is 18-23 ºC. Dit is onmiddelik ‘n probleem, aangesien ons somers warmer is as dit.

Daar is twee fisiologiese effekte om in gedagte te hou wanneer ‘n vark lei aan hittestres.

  1. Dit kos baie energie om hitte vry te stel.
  2. Bloed versprei hitte, so bloed moet gepomp word na die vel vir hittevrystelling

‘n Duidelike teken van hittestres is die feit dat voerinname daal. Dis ongemaklik om te eet in die hitte van die dag. Die spysverteringstelsel van die vark vereis goeie bloedtoevoer na die derms. Bloedtoevoer na die derms verminder tydens hittestres. Dit veroorsaak dat dermgesondheid, asook vertering en nutrient absorpsie, verswak. Terselfdetyd verswak die binding tussen die individuele dermwand selle wat ‘n belangrike versperring tussen die dermkanaal en die bloedvate rondom die derms is. Dit lei tot Lekkende Derm Sindroom waar toksiene vanaf die derm in die bloedstroom vrygestel kan word.

Die nadele van hittestres

hittestres

Hierdie fisiologiese reaksie is dieselfde by sôe en groeiers, maar die effek is anders aangesien elkeen ‘n ander produksiedoel het.

Sôe

In die laktasieperiode is daar altyd ‘n toutrek tussen die sog en die klein varkies se behoeftes. Die lakterende sog benodig ‘n omgewingstemperatuur van 16-18 ºC terwyl die varkies ‘n temperatuur benodig van 34 °C. As die omgewingstemperatuur styg tot 25 °C of meer het studies bewys dat ‘n sog se voerinname daal met 500g per dag. Dit het ‘n groot effek op melkproduksie en hierdeur word die klien varkies dan ook benadeel. Boonop word die eierselle vir die sog se volgende siklus reeds gevorm in hierdie tydperk en so het hitte ook ‘n effek op die volgende werpsel.

Groeiers

‘n Studie het bewys dat, in die Braziliaanse somer, groei varke 15% minder as in die winter. Groeiers wys ‘n duidelike verandering in eetpatrone. Voerinname daal, maar daar is ‘n verhoogde inname in die koeler tye van die dag. Hierdie verhoogde inname kom met sy eie probleme. Nie al die nutriënte word verteer nie en word dan gefermenteer in die dikderm. Dit veroorsaak probleme soos rooiderm (Lawsonia infeksie). Al hierdie faktore lei tot groeiverlies.

Oplossings vir hittestres

Daar is verskeie oplossings vir hittestres. Met bestuur kan jy voedingstye aanpas en op koeler tye in die dag voer. As die varke se behuising reg is kan meeste hittestres ook vermy word. Verskeie faktore soos, byvoorbeeld, die tipe vloere, ventilasie sisteme en oriëntasie van die huise kan ‘n groot verskil maak. Die vraag is, wat maak jy as hierdie maatreëls in plek is, maar jou diere sukkel nogsteeds? Dit is waar ons baie aan die voeding kan doen om dit makliker te maak vir jou sôe en groeivarke. Hierdie oplossings is, onder andere, betain, vitamien C, rantsoenaanpassings en essensiële olies.

Nuwe navorsing oor die voordele van essensiële olies is volop. Dit sluit voordelige effekte in vir hittestres. Varke, wat van nature lief is vir menthol, se asemhaling word vergemaklik wanneer dit ingesluit word in hul voer. Eucalyptus olie het ‘n antimikrobiese effek en verbeter immuniteit, veral in die longe. ‘n Ekstrak van rissies (Capsicum oleoresin) verbeter voerinname en het ‘n anti-inflammatoriese effek in die verteringstelsel. Kaneel het ‘n antioksidant funksie in die derms en studies beskryf die effek as “verkoelend” in die derms. ‘n Kombinasie van hierdie essensiële olies kan jou varke ‘n verbeterde verdediging teen hittestres bied.

Oorwin die uitdaging

Suid-Afrika se warm somermaande kom met vele uitdagings. Varke benodig bystand om dit aan te pak sonder produksieverliese. Die produksieverliese as gevolg van hittestres kos baie geld op die ou einde van die dag en dit is noodsaaklik om daardie verliese te verhoed. So, moenie op die hittete reageer nie. Wees proaktief in jou varke se hantering van die somer hitte.

Suné Le Roux
+ posts