Die lente in Suid-Afrika slaan sommer vroeg na somer oor. En wanneer die kwik begin styg, kan daardie warm somersdag vinnig baie ongemaklik raak. Om dan produktief te moet wees is amper onmoontlik. Varke ervaar hierdie dilemma 100 maal erger. Varke is nie baie doeltreffend as dit by hitte-vrystelling kom nie. Hulle het ’n vinnige metabolisme wat hitte genereer, maar ’n dik laag vet onder die vel en swak ontwikkelde sweetkliere. Hittestres affekteer varke van 50kg liggaamsmassa en hoër. Dus lê die grootste uitdaging by sôe en groeiers. Hul ideale omgewingstemperatuur is 18 tot 23˚C en aangesien ons somers warmer is as dit, kan dit problematies raak vir die diere indien die omgewingsbeheer nie korrek bestuur word nie.
Twee fisiologiese uitwerkings kom ter sprake wanneer ’n vark aan hittestres ly. Eerstens kos dit baie energie om hitte vry te stel. Bloed word deur hitte versprei, en dus moet bloed na die vel gepomp word vir hittevrystelling. Tweedens neem voerinname af. Die spysverteringstelsel van die vark vereis goeie bloedtoevoer na die derms en dit verminder tydens hittestres. Dit veroorsaak dat dermgesondheid asook vertering en nutriëntabsorpsie verswak.
Terselfdertyd verswak die binding tussen die individuele dermwandselle, wat ’n belangrike versperring tussen die dermkanaal en die bloedvate rondom die derms is. Dit lei tot lekkende dermsindroom, waar toksiene vanaf die derm in die bloedstroom vrygestel word. Hierdie fisiologiese reaksie is dieselfde by sôe en groeiers, maar die effek is anders, aangesien elkeen ’n ander produksiedoel het.
Die negatiewe effekte van hittestres word in Figuur 1 aangedui.
Figuur 1: Die negatiewe effekte van hittestres.
Nadele vir sôe
Tydens laktasie is daar ’n toutrek tussen die sog en die klein varkies se behoeftes. Die lakterende sog benodig ’n omgewingstemperatuur van 16 tot 18°C, terwyl die varkies ’n temperatuur van 34°C benodig. Studies toon dat wanneer die omgewingstemperatuur tot 25°C of hoër styg, ’n sog se voerinname met 500g per dag daal. Dit het ’n groot uitwerking op melkproduksie, wat die klein varkies dan ook benadeel.
Boonop word die sog se eierselle vir die volgende siklus reeds in hierdie tydperk gevorm en het hitte dus ook ’n effek op die volgende werpsel.
Nadele vir groeiers
’n Studie het bewys dat in die Brasiliaanse somer, varke 15% minder as in die winter groei. Groeiers toon ’n duidelike verandering in vreetpatrone. Voerinname daal, maar ’n verhoogde inname vind in die koeler tye van die dag plaas, wat op sy beurt probleme veroorsaak. Nie al die voedingstowwe word verteer nie en fermenteer dan in die dikderm. Dit lei tot probleme soos rooiderm (Lawsonia-infeksie). Al hierdie faktore lei tot groeiverlies.
Oplossings vir hittestres
Met bestuur kan voedingstye aangepas word om op koeler tye van die dag te voer. Met goeie behuising kan hittestres ook grootliks vermy word. Verskeie faktore soos die tipe vloere, ventilasiestelsels en oriëntasie van die huise kan ’n groot verskil maak.
Maar hoe gemaak as hierdie maatreëls in plek is en jou diere steeds sukkel? Dit is waar voeding ’n rol speel en baie gedoen kan word om die situasie vir sôe en groeivarke te verbeter. Hierdie oplossings is, onder andere, betaïen, vitamien C, rantsoenaanpassings en essensiële olies.
Nuwe navorsing oor die voordele van essensiële olies is volop, insluitend die voordelige uitwerking daarvan teen hittestres. Varke, wat van nature lief is vir mentol, se asemhaling word vergemaklik wanneer dit in hul voer ingesluit word. Eukaliptusolie het ’n antimikrobiese effek en verbeter immuniteit, veral in die longe.
’n Ekstrak van rissies (Capsicum oleoresin) verbeter voerinname en het ’n anti-inflammatoriese effek op die verteringstelsel. Kaneel het ’n anti-oksidantfunksie wat ’n verkoelende effek in die derms het. ’n Kombinasie van hierdie essensiële olies bevorder dus varke se verdediging teen hittestres.
Oorwin die uitdaging
Suid-Afrika se warm somermaande kom met vele uitdagings. Varke benodig bystand om dit deur te sien sonder produksieverliese. Produksieverliese weens hittestres het ’n groot ekonomiese impak en dit is noodsaaklik om hierdie verliese te beperk. Moenie wag tot die hitte toeslaan nie. Wees proaktief in jou varke se hantering van die warm somermaande.
Vir meer inligting, stuur ’n epos na sune@4mix.co.za of besoek www.4mixinternational.com.